Tuesday, November 25, 2014

Stap saam

Posted by Adele Hattingh at 2:18 AM 0 comments
Soms wens ek, ek kon vir jou die skatkamers van my siel wys.
Jou op 'n toer vat deur die bloedbevlekte portale van my denke waar die seer van die verlede soos portrette teen die mure van my wese hang.
Daar binne hardloop my gemoed rond op soek na stil word plek, beter maak plek , oorwinnings plek. Opsoek na die oomblik van totale innerlike vrede.
Waar die duif se veer tot ruste kom op die hoogste olyf tak van my drome.

Ek sal jou hand vat en jou lei verby die maalkolk wat my hart is, en teen die heuwels van my onsekerheid uitklim.
Ek wens ek kon jou wys hoe die gesigte van geliefdes teen my rou dam van trane vas gepleister is. Dan sal jy sien hoe jy soos 'n katedraal bo dit alles uitstaan, hoe jy die gom is wat die klippies op my pad vasbind in 'n hoofweg van passie.
Dan sal jy sien hoe jou woorde soos warm teer teen die kante van my wese afdrup
Hoe jy teenwoordig is in elke kamer wat ek deurtrap.
Dan sal jy weet.
Dan sal jy verstaan. 
 

Daughter of Zion Copyright © 2012 Design by Antonia Sundrani Vinte e poucos